Ons het die oggend redelik vroeg opgestaan. Ontbyt gaan eet sommer daar by die plek waar ons gebly het. Die ontbyt was croissants, rolletjies en pap met koffie of sap.

Eerste op die lys was om na die Notre Dame toe te gaan (met Maria se aanwysings in die hand, baie handig gewees!), maar toe ons by die Cite stasie afklim raak ek die pad byster en loop ek heel in die verkeerde rigting. Dit was eintlik baie lekker. Toe sien ons allerhande plekke wat ons nie noodwendig sou gesien het nie. Ons stap toe na ‘n paar onbekende plekke en kom toe later by die Louvre uit. Al wat ek kan sê is dat die Louvre is iets om te aanskou. Ongelukkig is die Louvre op ‘n Dinsdag toe. So to kyk ons ‘n bietjie na die gebou en stap rondom dit en toe stap ons aan. Deur die tuin en aan met die Champs Elysees tot by die Arc De Triomphe. Daar is ‘n tonnel onderdeur die pad om by die Arc De Triomphe uit te kom. Dit was omtrent ‘n stappie, maar so mooi en so baie om te sien. Ek het toe vinnig die trappe uitgehardloop tot bo en toe voel dit vir die eerste keer of ek bietjie verstaan waar wat is. Van bo kon ek die Sacre Coeur sien, die Eiffel Toring en die Louvre. Dit was so mooi van daarbo af en ewe skielik het ek nie meer so gedisorienteerd gevoel nie. Parys voel vir my baie plat, as dit sin maak, sodat mens nie sommer net die Eiffel Toring sien nie, so dit sukkel om net in ‘n rigting te probeer stap – nie ‘n berg om voor te mik nie! Haha!

Nadat ons by die Arc De Triomphe was het ons op ‘n bus geklim en na die Eiffel Toring toe gegaan. Die ry om op te gaan was baie lank. My ma het nie kans gesien nie, sy het gesê om net op te kyk maak haar klaar dronk in die kop, dit is baie hoog! Toe besluit ek om die trappe op te vat. Het nie te lank in die ry gewag nie en toe vinnig die trappe opgehardloop tot op die tweede vlak. Daar staan ons toe almal weer in ‘n ry om na die boonste vlak toe te gaan. Die meisie agter my vra toe hoekom moet ons weer kaartjies gee, ons was altwee onder die indruk dat die kaartjies wat ons gekoop het reg was om tot bo te gaan, ongelukkig is dit toe nie so nie en moes mens nog ‘n kaartjie koop om tot heelbo te kon gaan. Ek het toe nie tot heelbo gegaan nie. (Moes iets los vir volgende keer!) Dit is iets wat mens nie regtig vir iemand kan beskryf nie. Dis net ja… ‘n mens moet dit beleef! 🙂

Na die Eiffel Toring het ons weer op ‘n bus gespring en na die Notre Dame gegaan. Dit is ongelooflik mooi en gee ‘n mens omtrent hoendervleis as jy daar instap! My arme moeder was teen hierdie tyd nie meer lus vir loop nie… (Neem haar nie kwalik nie, veral nie nadat ek haar so ‘n wye draai laat loop het nie.) Sy gaan sit toe sommer tussen die kerkgangers terwyl ek deur die res van die katedraal stap. Hierna het ons besluit is dit tyd om terug te gaan na Le Village Hostel toe. Dit was ook baie warm en ons het altwee omtrent lekker gebrand!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *