familie

Ons familie is ‘n baie hegte, liefdevolle familie en ek voel vreeslik bevoorreg om deel te wees van so ‘n wonderlike familie. My ma-hulle is tien kinders, my een oom is al oorlede, maar ten minste een keer elke jaar probeer die nege broers en susters bymekaar uitkom. Hierdie jaar was dit ‘n spesiale geleentheid, tannie Johanna het sewentig geword en my niggie Marinda (tannie Johanna se dogter) sou veertig geword het. Marinda is ‘n week voor die hele saamtrek sou plaasvind oorlede. Dit was baie hartseer, maar ek dink, op ‘n manier het dit ook almal nog nader aanmekaar gebring. ‘n Mens besef net weer hoe kort die lewe is en ook hoe belangrik dit is om elke oomblik te koester. Sal haar wonderlike glimlag en haar positiewe gesindheid nooit vergeet nie, jy was vir ons almal ‘n inspirasie en ek weet jy is nou in die hemel sonder pyn en baie gelukkig!

So begin die naweek met ‘n Vrydagaand waar dit net die tannies en ooms is by my niggie, Maria, se huis en dan ook ‘n paar van ons niggies en nefies. Maria maak altyd alles soooo mooi, die ingang by die deur, die kamers, die manier waarop die tafel gedek is als, die fynste kleinste iets, noem dit, Maria het daaraan gedink! Sy het als gereël, tot dat al die tannies en ooms daar by hulle huis kon oorbly (met hulle ander helfde) sodat almal die hele naweek saam kon kuier. So word daar die hele naweek gebraai, afval geëet, seekos vir die wat nie wil afval eet nie, skaap stertjies en geëet en nog gekuier… Dit was vreeslik lekker! Daar is ook ‘n bietjie vergeet… maar lees meer daaroor op oom Gert se blog.

Saterdag gaan die partytjie voort. Daar is gereel dat die toesprake moet vroeg gebeur sodat daar rugby gekyk kan word. Oom Gert vra vir tannie Hestelle om vir hom te bel dan sal hy maak asof hy se selfoon antwoord. Oom Gert begin toe met sy toespraak na so ‘n paar minute lui sy foon, hy haal toe sy selfoon uit sy hempsak en antwoord. Dis tannie Johanna se eerste kerel! Tannie Johanna sit daar met ‘n baie snaakse uitdrukking op haar gesig & toe begin sy lag. Tannie Johanna se vir oom Gert, Gert jy kan spot, maar darem nie uit die graf uit nie. Oom Gert is bietjie hardhorend & gaan aan met sy grap, sonder dat hy weet die oom wat hy so besig is om mee te gesels is al oorlede. Ons almal rol soos ons lag, en hoe meer ons lag hoe meer dink oom Gert ons lag vir die poets wat hy bak. Dit was vreeslik snaaks.

Hier is ‘n paar fotos van ‘n ongelooflike lekker naweek!

6 thoughts on “Engelbrecht Familie Naweek”

  1. Tarina Tarina jy het ‘n gawe ek love love love jou blog en hierdie stukkie famillie herinering sal vir altyd bly!!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.